Henning-moordenaar blameer homself
2012-12-04 07:02
Johannesburg – Die verhoor van twee mans wat van die moord op Chanelle Henning beskuldig word, sal Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof voortduur.
Ambrose Monye, 'n voormalige Nigeriese Olimpiese atleet, en André Gouws staan tereg op aanklagte van moord, sameswering om moord te pleeg, sameswering om 'n onwettige vuurwapen en ammunisie te koop en die besit van 'n onwettige vuurwapen en ammunisie. Monye en Gouws het onskuldig gepleit.
Gerhardus du Plessis, 'n voormalige polisieman wat 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het, het Maandag aan die hof gesê hy blameer homself vir die moord.
"Ek kon nee gesê het, maar ek het nie," het Du Plessis gesê.
Hy het verder gesê hy verkwalik nie sy vriend Willem Pieterse omdat hy hom by die moordkomplot ingesleep het nie.
"Ons maak ons eie keuses. Ek het my keuse gemaak en ek kan dit nie verander nie."
Pieterse en Du Plessis beweer Monye het hulle gehuur om Henning dood te skiet en onderneem om hulle elk R10 000 te betaal. Dié twee is elk tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir hul aandeel in die moord.
Twee mans op 'n motorfiets het die 26-jarige Henning doodgeskiet kort nadat sy haar seun by 'n kleuterskool afgelaai het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA