Henning-moordbeskuldigdes in pleitooreenkoms
2011-11-29 12:04
Pretoria – Die man wat sy aandeel in die moord op Chanelle Henning beken het en sy medebeskuldigdes is in pleitonderhandelings met die staat.
Dít is Dinsdag in die Pretoriase landdroshof gehoor waar drie van die vyf beskuldigdes vlugtig verskyn het.
Andrea Johnson, staatsaanklaer, het aan die hof gesê Gerhardus du Plessis en Willem Pieterse is in pleitonderhandelings met die staat.
Du Plessis het erken dat hy Henning geskiet het, terwyl Pieterse daarvan beskuldig word dat hy die motorfiets, wat in die moord gebruik is, gery het.
Na verneem word is die minimum vonnis wat hulle opgelê kan word 18 jaar elk. Du Plessis en André Gouws het nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Gouws het 'n nuwe regsverteenwoordiger aangestel en het ook nie om borgtog aansoek gedoen nie.
Preshan Singh en Ambrose Monye sal voortgaan met hul borgtogaansoek.
Gouws is Nico Henning, Chanelle se vervreemde man, se vriend.
Die polisie het mnr. Henning ondervra en gesê hy is nie 'n verdagte nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter