Henning-moordenaars 18 jaar tronk toe
2011-12-14 11:03
Pretoria – Die geskorste polisieman Gerhardus du Plessis en sy medebeskuldigde Willem Pieterse is in die Pretoriase landdroshof 18 jaar tronkstraf opgelê weens die moord op Chanelle Henning.
Du Plessis en Pieterse het albei skuldig gepleit nadat hulle ‘n pleitooreenkoms met die staat bereik het.
Hulle is skuldig bevind op aanklag van moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, berig Beeld.
Henning is verlede maand dood kort nadat sy haar vyfjarige seun by die kleuterskool afgelaai het.
Die motorfietsryers is owat 40 minute voordat Henning geskiet is ook voor die skool gesien waar hulle haar vermoedelik ingewag het.
Toe Henning by die skool wegtrek, het hulle aan haar bestuurskant verbygery en haar deur haar ruit geskiet.
Du Plessis en Pieterse het inligting verskaf van die weke voor die moord op Henning.
Hulle het ook gesê Ambrose Monye en André Gouws het opdrag gegee dat die sluipmoord uitgevoer word.
Du Plessis het gesê al die beskuldigdes het mekaar geken en het verskeie kere voor die moord ontmoet.
Hy het gesê Monye het die sluipmoordenaars gehuur, terwyl Gouws al die inligting, insluitend Henning se adres, verskaf het.
Deel van die pleitooreenkoms is dat Du Plessis en Pieterse teen die ander beskuldigdes sal getuig.
Henning se ouers, Ivan Saincic en sy vrou, Sharon, het die pleitooreenkoms goedgekeur en onderteken, berig Beeld.
Die Saincis-egpaar en Nico Henning, Chanelle Henning se vervreemde man, was nie Woensdag by die hofverrigtinge teenwoordig nie.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter