Henning-moord: 'Eks het verdagte gebel'
2012-01-17 19:56
Pretoria – Een van die vyf mans wat in hegtenis geneem is vir die moord op Chanelle Henning het ‘n paar dae voor die moord ‘n oproep van haar eks-man ontvang, het die Pretoria-streekhof Dinsdag gehoor.
Kapt. Petrus van der Spuy, ondersoekbeampte, het getuig dat foonrekords daarop dui dat André Gouws op die naweek van 6 November 2011 van Nico Henning se foon af gebel is.
Van der Spuy het getuig in die staat se bod om te keer dat borgtog aan Gouws toegestaan word.
Volgens getuienis wat vroeër in die verhoor van die voormalige polisiebeamptes Gerhardus du Plessis en Willem Martinus Pieterse gehoor is, het “’n beller” Gouws opdrag gegee om die moord wat daardie naweek sou plaasvind uit te stel, omdat “die teef die naweek die baba gehad het”.
Die Hennings het ‘n seun, wat vyf jaar oud was ten tyde van sy ma se dood. Hulle was vroeër in ‘n dispuut gewikkel oor toesig oor die seun. Chanelle het dié dispuut gewen.
Sonder om ‘n naam te noem, het Van der Spuy aan die hof gesê die polisie moet nog “die meesterbrein” vastrek en verwag nog inhegtenisnemings.
Luidens Gouws se beëdigde verklaring, wat in die hof gelees is, beoog hy om onskuldig te pleit wanneer die verhoor begin. Hy beweer hy is ernstig aangerand toe hy in hegtenis geneem is en later weer tydens sy aanhouding.
“Ek is met die dood gedreig. Ek is bevrees ek sal myself nie in die hof kan verdedig as ek nie op borgtog vrygelaat word nie.”
Hy het gesê hy sien om na sy 70-jarige ma, vir wie hy finansiële steun bied.
Gouws se borgtogaansoek is tot 24 Januarie uitgestel.
Die voormalige olimpiese atleet van Nigerië Ambrose Monye het sy borgtogaansoek laat vaar. Hy verskyn weer op 16 Februarie in die Pretoria-streekhof.
Monye (37), Gouws (47), Preshan Singh (24), Du Plessis (34) en Pieterse is in November in hegtenis geneem in verband met die verbyry-skietery waarin die jong ma dood is.
Sy is geskiet deur twee mans op ‘n motorfiets terwyl sy bestuur het in Faerie Glen in die ooste van Pretoria op 8 November 2011, oomblikke nadat sy haar seun by die Morning Star Montessori-dagsorgsentrum afgelaai het.
Du Plessis en Pieterse is op 14 Desember skuldig bevind en tot 18 jaar tronkstraf elk gevonnis nadat hulle ‘n pleitooreenkoms aangegaan het. Hulle het skuldig gepleit op aanklagte van moord, die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.
Singh se borgtog van R5 000, wat in November toegestaan is, is Dinsdag tot 16 Februarie verleng.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA