Hemp, kondoom naby vermoorde meisie gevind
2011-09-14 11:00
Kaapstad – Die lyk van 'n vierjarige meisie is in die bosse naby haar huis in Monwabisi Park buite Kaapstad gevind, berig die Cape Times.
Tutuse Mchilwa, 'n familielid van die meisie, het aan die koerant gesê hy en 'n vriend het Dinsdag op Aviwe Speelman se lyk afgekom.
"Toe ek op haar afkom, het sy daar gelê, haar gesig was met haar klere bedek," het hy gesê.
"Haar ander T-hemp met bloedvlekke was langs haar lyk en 'n kondoom langsaan."
Aviwe is Maandag deur haar ouers as vermis aangemeld.
Sy is verwurg.
Linomtha Hokwana, 'n buurman, het gesê Aviwe is laas lewend gesien toe sy met haar tweejarige broer, Avuyile, gespeel het.
"Dit was ná ses toe haar pa huis toe kom van die werk af. Minute later het 'n huilende Avuyile na die huis gehardloop en gesê 'n man het Avuyiwe na 'n winkel geneem."
November Filander, polisiewoordvoerder, het gesê 'n saak van moord word ondersoek en dat ondersoekbeamptes ook sal vasstel of die meisie verkrag is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA