Helikopter het glo in kragdrade vasgevlieg
2010-07-23 15:08
Pretoria – Die polisiebeamptes wat Vrydag gesterf het toe ‘n helikopter naby Witbank neergestort het, het bystand gebied tydens ‘n gewapende roof.
Volgens Dianne Kohler Barnard, DA-LP en -woordvoerder oor polisie, was die beamptes op pad terug vanaf ‘n gewapende roof in Witbank waartydens drie verdagtes vasgetrek is.
“Die helikopter het glo in kragdrade vasgevlieg,” het Kohler Barnard in ‘n verklaring gesê.
Die helikopter, wat sewe persone vervoer het, insluitende lede van die polisie se intervensie-eenheid het vroeg Vrydagoggend neergestort en aan die brand geslaan. Almal aan boord het gesterf.
Volgens ER24-paramedici het die tragedie omstreek 09:00 plaasgevind naby Verena-weg in Clarinet.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, en genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, het omstreeks 11:00 na die ongelukstoneel gegaan.
“Dit is vir ons ‘n swart Vrydag,” het ‘n huilende kol. Bheki Cele, polisiehoof, gesê.
“Hierdie mense het gesterf terwyl ander probeer beskerm het. Ons innige simpatie met die slagoffers se familie en vriende.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA