Hele huis brand tot op grond af
2011-11-16 07:00
Kroonstad – ’n Egpaar en hul sesjarige seuntjie het net die klere aan hul lyf oor nadat hul huis hier tot op die grond afgebrand het.
Freddie Klemp, sy vrou, Zelda (albei 28), en hul seuntjie, El-Rico, was nie tuis toe die brand in hul huurhuis op die plaas Middleslope ongeveer 10 km buite Kroonstad op die Steynsrus-pad uitgebreek het nie. Mnr. Klemp, ’n plaasbestuurder, was Maandag by die dokter toe werkers hom om 12:45 bel en sê die huis brand.
Toe hy by die huis kom, was boere reeds besig om te probeer om die vlamme te blus, maar dit was te laat. Die brandweer en polisie is ook ontbied.
Die gesin sal by familie tuisgaan totdat hulle weet wat hulle gaan doen, sê mnr. Klemp.
’n Baie hartseer mev. Klemp sê haar foto’s wat daarmee heen is, is vir haar die grootste verlies. Sy het ook ’n geelhout-eetkamerstel, ’n familie-erfstuk, in die brand verloor.
Die gesin het nie versekering gehad nie en moet nou uit hul eie sak alles wat hulle verloor het, begin vervang, sê Coreen van Wyk, mev. Klemp se ma. “My kleinseun se speelgoed is alles weg. Tot sy boomhuis het afgebrand.”
Mev. Klemp het pas begin om haar praktyk op die plaas te vestig. Sy doen terapie met kinders met spesiale behoeftes en span perde in.
Mev. Klemp sê haar perde was gelukkig in die veld en nie naby die huis nie toe die brand uitgebreek het. Vier babakatjies van hul seuntjie is dood in die brand.
Maselela Langa, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van brandstigting word ondersoek om vas te stel hoe die brand ontstaan het.
Mense wat die egpaar wil bystaan, kan 076-849-0254 bel.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad