Heldhaftige polisiebeampte ontslaan
2011-11-15 21:01
Johannesburg – Ao. Johan Fourie van Boksburg is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy deur ‘n swerm bye gesteek is terwyl hy ‘n baba teen hulle beskerm het.
Volgens kapt. Pinky Tsinyane is Fourie in die OR Tambo Gedenkhospitaal opgeneem ná sy heldedaad Maandag.
Hy was te perd op patrollie in die Boksburg-gebied op die hoek van Rondebuilt- en Middelstraat toe hy gesien het hoe mense vlug van die swerm bye.
Hy het gesien hoe mense wys na ‘n verlate stootwaentjie.
Die beampte is vertel daar was ‘n baba in ‘n stootwaentjie. Die ma het na die ander kant van die pad gevlug nadat sy gesteek is, het Tsinyane gesê.
Fourie het naderbeweeg en gesien die sewe maande oue baba se gesig is deur bye bedek.
“Hy wou die baba uit die stootwaentjie haal, maar die bye het hom gesteek. Hy het toe die stootwaentjie gegryp en daarmee weggehardloop totdat die bye die baba se gesig begin verlaat het.”
Volgens Tsinyane het hy met die baba na die hospitaal gehaas, waar beide van hulle weens bysteke opgeneem is.
“Fourie is vandag [Dinsdag] ontslaan en die baba is steeds in die hospitaal in ‘n stabiele toestand.”
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA