Held was in Heli-ramp
2010-07-24 07:00
Pretoria - Kapt. Wickus Zaayman (31), een van die helde tydens die Mosambiekse vloede tien jaar gelede, is onder die sewe polisielede wat gister in ’n helikopterongeluk dood is.
Zaayman en sy kollegas was van Pretoria na eMalahleni (Witbank) onderweg toe hul helikopter in Pine Ridge naby die Klarinet-plakkerskamp in eMalahleni ontplof en neergestort het.
Zaayman was in 2000 ’n jong weermagvlieënier wat gehelp het om mense te red wat in die vloede in Mosambiek vasgekeer was. Hy het by geleentheid op sy afdag saam met ’n span uitgegaan en in die moddervloedwater geduik om ’n jong seun te red.
Gister het Zaayman en sy kollegas se erg verbrande lyke in die veld gelê. Die helikopter se enjin en ander dele het oor ’n groot gebied versprei gelê.
“Dit is ’n swart Vrydag,” het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, op die toneel gesê voordat hy in trane uitgebars het.
Ao. Tinus Gouws (39) was Zaayman se medevlieënier. Hulle was lede van die polisie se lugvleuel in Pretoria.
Die ander polisiemanne wat dood is, is almal van die nasionale intervensie-eenheid. Hulle is kol. Percy Maduna (39), bevelvoerder van die eenheid, ao. Dirk van Aswegen (35), ao. Colin Davids (37), sers. Jacobus Henning (28) en sers. Daniël de Bruin.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het die ongelukstoneel per helikopter besoek. Hy het verskeie polisielede in hartseer tonele vasgehou en vasgedruk.
Polisiemanne en -vroue op die toneel het openlik gehuil.
Brig. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die polisielede, asook vyf lede in ’n ander helikopter, was onderweg na ’n rooftog by Shoprite in eMalahleni waar sewe gewapende mans glo ’n vrou gyselaar gehou het.
Die lede is ontbied omdat die verdagtes aan die plaaslike polisie gesê het hulle het ’n vrou as gyselaar geneem. “Die verdagtes het egter gejok oor die gyselaarsdrama,” het De Beer gesê.
Volgens haar het die eerste helikopter met die vyf lede veilig geland. Terwyl hulle saam met die plaaslike polisie in ’n skietgeveg met die rowers betrokke was, het die ander helikopter ontplof.
De Beer het gesê sewe verdagtes is aangekeer, waarvan een in die geveg gewond is.
Cele het vertel hoe hy pas by die Eldoradopark-polisiekantoor in Johannesburg ingestap het toe hy die boodskap oor die ongeluk ontvang het. “Ek het daarna onmiddellik na die toneel gekom.
“Wat ek hier sien, wil ek vir ’n lang tyd nie oor praat nie. Ek het almal (die oorledenes) persoonlik geken,” het hy huilend gesê.
Volgens Cele was die helikopter in ’n puik toestand. “Die helikopter is op 9 Junie gediens. Hy het nog honderde vliegure gehad.
“Sy enjin is ook onlangs in die VSA oorgedoen en dit was so te sê nuut.”
Cele het gesê die vlieënier was uiters ervare met meer as 3 000 vliegure agter die rug. Hy het twee jaar gelede by die polisie aangesluit.
Die ander lede in die eerste helikopter wat in eMalahleni geland het, het onbewus van wat met hul kollegas gebeur het, voortgegaan om sewe verdagtes in hegtenis te neem.
“Ons het hulle nou net by die Witbank-polisiekantoor gesien en met hulle gepraat. Ons sal deur die loop van die dag met die ander lede van die eenheid gaan praat.”
Vuyisa Skosana (26) van die Klarinet-plakkerskamp het gesê sy het omstreeks 8:45 tee gemaak toe sy ’n helikopter buite hoor.
“Ek het onmiddellik uitgegaan en toe ek buite kom, het ek die helikopter in die lug gesien. Dit het ontplof en toe grond toe geval,” het Skosana gesê.
Cordelia Gumbi (37), wat ook die voorval sien gebeur het, het gesê sy het onmiddellik die brandweer gebel.
“Mense het van oral na die toneel gehardloop, maar ons kon nie help nie, want daar was oral vlamme. Dit het gebrand. Die brandweer het ook baie lank geneem om by die toneel uit te kom,” het Gumbi gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger