Hel breek los by Cope-konferensie
2010-05-29 14:20
Johannesburg – Die oorhandiging van ‘n kennisgewing dat Cope se leier, Mosiuoa Lekota, vir ‘n interdik aansoek gedoen het om te keer dat die party se verkiesingskonferensie voortgaan, het tot geweld by die konferensie gelei, het ‘n beampte van die party gesê.
Volgens Deidre Carter, Cope se adjunk-sekretaris-generaal, was die “hel los” nadat Charlotte Lobe, Cope se sekretaris-generaal, die saal vol afgevaardigdes van die kennisgewing vertel het.
Cope was besig om Saterdag ‘n omstrede nasionale verkiesingskonferensie by die St George’s Hotel in Irene, naby Pretoria, te hê.
Volgens Carter het Mbazime Shilowa, die party se adjunk-president, haar aan die arm gegryp voordat sy die kennisgewing van die interdik aan lede van Cope se nasionale komitee oorhandig het.
Haar arm het glo bloukolle tydens die insident gekry.
“Ek moes vir hom sê: ‘Hou op, jy maak my seer’,” het sy gesê.
Carter het die kennisgewing aan die komitee se lede oorhandig.
Lobe het daarna aan die afgevaardigdes vertel dat Lekota ‘n interdik wil kry.
Chaos
‘n Vrou is daarna aangeval en het erg gebloei, het Carter gesê. Die vrou kry mediese behandeling daarvoor.
Volgens Carter het Shilowa se ondersteuners en Lekota-ondersteuners begin baklei.
Die saal is ontruim en die polisie is ontbied.
- Sapa
Volg Nuus24 op Twitter.