Heksery-moord: 14 verskyn binnekort
2012-01-13 11:45
Durban – Altesaam 14 mense sal in die Ntuzuma-landdroshof verskyn vir die moord op ‘n bejaarde egpaar in Lindelani, naby Ntuzuma, het die KwaZulu-Natalse polisie gesê.
"Veertien verdagtes sal Maandag in die hof verskyn," het kapt. Thulani Zwane gesê.
'n Groep mense het die egpaar Woensdagoggend aan die brand gesteek ná die man en sy vrou van heksery beskuldig is.
Die verdagtes, tussen die ouderdom van 18 en 40 jaar, is Donderdag in Lindelani in hegtenis geneem.
Volgens Zwane is Elsa Dubazane (60) dood in haar slaapkamer aangetref en haar 66-jarige man, Rafael Dubazane, se lyk is in hul straat gevind.
The Mercury berig dat die egpaar Vrydag deur ‘n bende aangeval en aangerand is. Die bende het die Dubazane-egpaar daarvan beskuldig dat hulle hul kleindogter, Zakude Shozi (16), vermoor en begrawe het.
“Hul kleindogter het op 4 Januarie in die Mahatma Gandhi-hospitaal gesterf. Sy het ‘n oordosis pille geneem aangesien sy familie-probleme gehad het,” het Zwane gesê.
Zwane sê die polisie wag vir die uitslae van die nadoodse ondersoek aangesien daar bewerings is dat Shozi deur haar ouma of haar pa geslaan is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA