Heksery glo motief vir moorde
2010-09-03 10:42
Johannesburg – Die motief agter die gru-moorde van ‘n Oos-Kaapse ouma en haar vier kleinkinders was glo heksery, het die Dispatch Online Vrydag berig.
Mduduzi Mzila, senior staatsaanklaer, het Donderdag in die Ngqeleni-landdroshof gesê dat die verdagtes daarvan oortuig was dat die ouma sekere jonges in die gemeenskap wou toor.
“Die verdagtes het gesê daar was ‘n lys met name van jongmense wat die ouma glo beplan het om te toor. Sommige van die jonges wie se name ook op die lys was is hier in die hof vandag,” het Mzila in die hof gesê.
Die saak is uitgestel tot 21 September wanneer die verdagtes, wat steeds in aanhouding is, vir borgtog kan aansoek doen.
Masilengenge Bambusiba (85) en haar kleinkinders Lwazi (17), Lwando (10), Vela Nogemane (9) en Nogemane (5) is op 22 Augustus dood in hul huis aangetref nadat hul wreed doodgekap is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA