Hekkies-atleet se bagasie gesteel
2011-07-19 14:45
Johannesburg – Suid-Afrika se rekordhouer in die 400-hekkies, LJ van Zyl, het Maandag nadat hy in Italië aangekom het, ontdek dat sy klere uit sy bagasie gesteel is.
Van Zyl neem Vrydag aan die Diamantliga-byeenkoms in Monaco deel en wou vroeër na Europa reis sodat hy nie sy 26ste verjaardag Dinsdag op 'n lughawe hoef te vier nie.
Hy het na Venesië via Doebai gevlieg, maar vermoed dat daar by die OR Thambo-lughawe in Johannesburg met sy bagasie gepeuter is.
"Die slot is gebreek en alles is gesteel," het Van Zyl gesê.
"Kan jy dit glo? 'n Dag voor my verjaardag." Van Zyl het skertsend gesê hy sal beslis nuwe klere moet koop want hy kan nie in 'n sweetpak by die kasino in Monaco opdaag nie.
Vrydag se byeenkoms sal 'n goeie aanduiding wees van hoe Van Zyl se voorbereiding vir die Wêreldkampioenskappe in Augustus vorder.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA