Heath se toekoms in die weegskaal
2011-12-08 10:04
Johannesburg – Slegs 'n week nadat hy as hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid aangewys is, hang adv. Willem Heath se toekoms in die weegskaal.
In 'n dramatiese wending lyk dit nou asof Heath dalk aan pres. Jacob Zuma se verkeerde kant beland het oor omstrede uitlatings wat hy oor oudpres. Thabo Mbeki gemaak het.
Zuma het Woensdag gesê hy sal kyk na Heath se uitlatings wat hy in 'n onderhoud met City Press gemaak het.
Heath het Mbeki in die onderhoud daarvan beskuldig dat hy die aanklagte van korrupsie en verkragting teen Zuma in aanloop tot die ANC se leierskapverkiesing in 2007 "aangehits" het.
Hy het ook gesê Zuma se voormalige finansiële raadgewer, Schabir Shaik, en Tony Yengeni, 'n senior ANC-lid, is "opgeoffer" in die ondersoek na die regering se wapentransaksie. Heath het ook gesê regter Hilary Squires se uitspraak in die Shaik-korrupsieverhoor was vol foute omdat daar nie genoeg bewyse was om hom te veroordeel nie.
Zuma het aan Ukhozi FM gesê hy sal regsadvies van Jeff Radebe, minister van justisie, inwin oor Heath se uitlatings.
– Lees meer hier
– Volg Nuus24 op Twitter