Heath 'gaan niks verander'
2011-11-30 10:04
Johannesburg – Willem Heath, nuutaangestelde hoof van die spesiale ondersoekeenheid (SOE), het gesê hy beplan nie om huidige ondersoeke te verander nie.
"Ek gaan nie dinge omkrap nie," het hy aan The Star gesê.
"Daar is baie hangende ondersoeke en ondersoeke wat aan die gang is, en ek gaan dit nie verander nie."
Zuma het Dinsdag Heath se aanstelling aangekondig om die "druk" op Willie Hofmeyr, ’n adjunk-nasionale direkteur van openbare vervolging en die hoof van die SOE en die nasionale vervolgingsgesag se batebeslagleggingseenheid is, te verminder.
Heath, 'n vertroueling van Zuma, het 'n rol gespeel toe die aanklagte van korrupsie teen Zuma voor die verkiesing in 2009 laat vaar is.
"Wat Zuma betref, het ek destyds die saak (sy korrupsie-aanklagte) ondersoek. Ek was daarvan oortuig dat daar geen bewyse teen hom is nie en dat die vervolging deur besmette getuienis gedryf is," het Heath gesê.
"Dit is nie vir my 'n beloning nie – anders sou dit gebeur het toe Zuma president word."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA