Heath-bewerings lasterlik, sê Mbeki
2011-12-08 14:12
Johannesburg – Oudpres. Thabo Mbeki het bewerings dat hy twee aanklagte teen Jacob Zuma aangehits het, verwerp, het sy woordvoerder gesê.
"Dis van alle waarheid ontbloot," het Mukoni Ratshitanga gesê.
Ratshitanga het gesê Mbeki het die bewerings wat deur Willem Heath, nuutaangestelde hoof van die Spesiale Ondersoekeenheid, “kategories verwerp”.
Heath het die bewerings in 'n onderhoud met City Press, wat verlede Sondag gepubliseer is, gemaak. Hy het as hoof van die SOE bedank toe Mbeki president was.
Zuma het Heath verlede week as hoof van die SOE aangestel.
Ratshitanga het gesê Heath het kwaadwillige en lasterlike bewerings teen Mbeki gemaak in die onderhoud met City Press.
Heath het Mbeki in die onderhoud daarvan beskuldig dat hy die aanklagte van korrupsie en verkragting teen Zuma in aanloop tot die ANC se leierskapverkiesing in 2007 "aangehits" het.
Hy het ook gesê Zuma se voormalige finansiële raadgewer, Schabir Shaik, en Tony Yengeni, 'n senior ANC-lid, is "opgeoffer" in die ondersoek na die regering se wapentransaksie. Heath het ook gesê regter Hilary Squires se uitspraak in die Shaik-korrupsieverhoor was vol foute omdat daar nie genoeg bewyse was om hom te veroordeel nie.
Mbeki is in 2008 as president van die ANC uit die kussings gelig.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA