Hartseer, woede ná pa sy hele gesin uitwis
2011-08-14 08:05
Herman Scholtz en Hanri Wondergem
Johannesburg - Twee families sukkel om hul woede en hartseer oor ’n gesinsmoord in ’n gesogte woonkompleks in Centurion te verwerk.
Jan Strydom (39) het Donderdagaand sy vrou, Nadia (32), in hul spoghuis in Valley View, Kosmosdal doodgeslaan voordat hy hul kinders, Aidan (5) en Amber (2), gewurg en in sy motor vergas het.
Daarna het Strydom, ’n jare lange depressielyer, die kinderlykies in hul beddens gesit en homself aan ’n trap opgehang.
Vir Strydom se bejaarde ouers, Ben en Eunice Strydom, wat in die Eikelaan-tehuis in Potchefstroom woon, is dit die tweede keer dat hulle ’n kind op dié manier aan die dood afstaan.
Strydom se broer het sowat 15 jaar gelede ook selfmoord gepleeg, het Tom Marx, Strydom se swaer, Saterdag aan Rapport gesê.
Hy het Strydom se broer nie persoonlik geken nie.
Marx sê aan sy suster (Nadia) se kant van die familie “is daar nog ’n groot mate van woede oor die moorde”.
“’n Mens kan nog selfmoord probeer verduidelik, maar ’n mens kan nie moord verduidelik nie.
“Hy het drie mense vermoor. Die mooiste vrou en kinders wat daar is. Dit maak hom psigoties, nie depressief nie,” sê Marx.
Strydom se ouers is diep in hul sewentigs. Hulle bly steeds op Potchefstroom, waar hul kinders ook skoolgegaan het.
Ds. Fanie Coetzee, hul leraar, het aan Rapport gesê hy het Saterdag die hele dag saam met die bejaarde egpaar in Huis Eikelaan gebid.
“Dit gaan so goed met hulle as wat dit in die omstandighede kan gaan,” het hy gesê.
“Hulle is twee mooi gelowige mense wat platgeslaan is. Hulle het baie mooi verhoudinge met hul seun, skoondogter en kleinkinders gehad.”
Volgens Coetzee was hulle bewus van hul seun se depressieprobleem.
“Maar dit is vir hulle ’n geweldige skok.”
Coetzee wou nie oor die ander Strydom-seun se selfmoord praat nie.
Marx het Saterdag gesê die polisie vermoed Strydom het ’n ysterpyp gebruik om sy vrou mee dood te slaan.
Volgens hom het sy swaer en suster allermins geldnood of huweliksprobleme gehad.
Strydom was ’n sake-ontleder wat “’n goeie salaris” verdien het.
Nadia sou op 1 September ’n kleuterskool by die huis begin het waar hulle net ’n week gelede ingetrek het. Sy het onlangs nog foto’s van die nuwe klimraam wat by hulle afgelewer is op Facebook geplaas.
Marx sê die brief wat Strydom agtergelaat het om sy optrede te verduidelik, “was nie regtig samehangend nie”.
Sy swaer het in die brief gekla oor konstante kopseer, die “toestand van die land”, dat hy “nie meer die druk kan hanteer nie” en dat hy nie sy kinders sonder ’n pa wil sien grootword nie.
Die Valley View-gemeenskap is twee maande gelede deur ’n soortgelyke voorval geruk.
Sapa berig Carry-Allen Anagnostatos het haar tweejarige kleinseun en seun (29) vermoor voordat sy haar polse gesny het.
Sy is na ’n hospitaal geneem, maar twee dae later het sy haarself gehang.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Rapport