Hartseer ouers verwyt taxibestuurder nie
2010-08-27 06:52
Kaapstad – “Die Here moet hom vergewe, want ek sal dit nie kan doen nie.”
Só het Frank Fabing, ’n familievriend van wyle Nolan February (13), gister by die treinoorgang in Buttskopstraat, Blackheath, gesê oor die bestuurder van die minibustaxi waarin Nolan en nog agt ander leerders dood is.
Die taxi met 14 leerders het Woensdag oor die treinoorgang in Buttskopstraat gejaag en teen ’n aankomende trein gebots.
Terwyl mense hul medelye met Nolan se onderwysers betuig het, het Fabing, wat soos Nolan se “tweede oupa” was, eenkant langs sy bromponie gestaan en trane afvee. Met die seer duidelik op sy gesig, het hy gesê hy sal nooit die seun wat hy soos ’n eie kleinkind beskou het vergeet nie, maar hy kan nie die bestuurder vergewe nie.
Nolan se ouers, Melvin en Sybil February, het egter aan Die Burger gesê hulle mag nie die taxibestuurder haat nie.
Sy klasjuffrou by die Hoër Tegniese Skool Kuilsrivier, me. Shanna-Leigh Moorrees, het gesê hy was nie die tipiese “goeie seun” in die klas nie, maar hy het altyd respek vir sy onderwysers getoon.
By die ouerhuis van Reece Smith (7) was die hartseer tasbaar. Sy ma, Rochelle Smith, het gesê daar sal nooit “ ’n carbon copy” van haar seun wees nie. “Reece was uniek.”
Smith het gesê hulle verwyt nie die bestuurder nie.
“Blaam gaan nie ons kind terugbring nie. Hy sal daarmee moet saamleef.”
By die Hoërskool Kasselsvlei in Bellville-Suid het ’n stampvol saal met ouers, medeleerders en vriende van Nadine Martinisen (16), Jean Pierre Willeman (13) en Jason Pedro (14) tydens ’n roudiens afskeid geneem.
Me. Qondisa Mapungu van die Wes-Kaapse onderwysdepartement het gesê dit is ’n hartseer dag en ’n tragedie wat die hele land geskud het.
Ronald Banton, skoolhoof van Kasselsvlei, het aan die families gesê hulle is glad nie alleen in dié tyd van hartseer nie. Volgens hom het die skool tot stilstand gekom toe hulle van die ongeluk gehoor het.
Jason se pa, Jomeke Pedro, het sy seun as ’n eerlike, lieflike kind beskryf. Hy het oral vriende gemaak en was nog pure kind. “Ons gaan hom mis.”
Gerty Willemans, Jean Pierre se ma, was oorweldig deur die hartseer. Sy het, terwyl familielede haar ondersteun het, gesê hy was ’n goeie kind.
Nikky Erasmus, pa van Cody Erasmus (15), het gesê sy seun wou graag ’n IT-tegnikus word. Hy het vir rekenaars geleef.
Erasmus het gesê dit help nie dat hy die taxibestuurder blameer nie.
Begrafnisreëlings was teen gistermiddag nog nie gefinaliseer nie.
Cody was ’n leerder aan die Hoër Tegniese Skool Bellville.
* Die ander oorledenes is Liezel August (11) van Good Hope Primêr, Jody Phillips (13) van die Hoër Tegniese Skool Bellville en Michaela de Koker (11) van Kalkfontein Primêr.
volg Nuus24 op Twitter.