Hartseer ma gee kleuters oordosis pille in
2011-02-25 09:15
Pretoria - ’n Pretoriase ma wie se tienerseun drie jaar gelede van ’n spreiligtoring na sy dood geval het, het na bewering haar twee kleuterdogtertjies ’n oordosis pille ingegee en toe probeer selfmoord pleeg.
Trudie Myburgh, wat by haar ouers in East Lynne woon, het na bewering ’n oordosis pille gedrink nadat sy glo vir die vierjarige Charlize en die tweejarige Chané ’n “handvol pille” ingegee het.
Myburgh se pa, Jannie Viljoen, het Sondag omstreeks 22:00 op Myburgh en die twee kleintjies afgekom. Hy het met hulle hospitaal toe gejaag.
Chané, wat in die Zuid-Afrikaans Hospitaal in Pretoria opgeneem is, was tot Woensdag in ’n koma. Charlize is aanvanklik in die Unitas-hospitaal in Centurion opgeneem, maar is ’n dag later ook na die Zuid-Afrikaans Hospitaal oorgeplaas.
Na verneem word, het albei meisies blou kolle op hul lywe gehad. Die sussies is Woensdagaand ontslaan.
Hul ma is al vroeër vandeesweek uit die Eugène Marais-hospitaal ontslaan, maar sy is vir behandeling in die Denmar- psigiatriese hospitaal opgeneem.
Volgens Beeld se inligting kan Myburgh nie oor die dood van haar seun, Luan Wienand, kom nie. Luan (15) het drie jaar gelede van ’n spreiligtoring by die Laerskool Derdepoort na sy dood geval.
Die polisie het destyds vermoed dat hy gegly en geval het of dalk selfmoord gepleeg het.
Kol. Gawie Alberts, stasiebevelvoerder van die Villieria-polisiekantoor, het gesê die polisie kon nog nie ’n dossier oor die jongste voorval aanlê nie, want “al wat ons tot dusver weet, is hoorsê”.
Volgens Alberts het hulle iemand wat op die toneel was of wat die meisies ondersoek het, nodig om verklarings by die polisie af te lê.
Viljoen het gesê die familie wil geen kommentaar lewer nie.
- Beeld