Hartbaba nog kritiek
2010-01-21 12:28
Johannesburg - Baba Ashleigh-Karin Louw, wat met ’n deel van haar hart buite haar borskas gebore is, is in ‘n kritieke maar stabiele toestand in die waakeenheid van die Chris Hani Baragwanath-hospitaal, het die hospitaal se bestuurder Donderdag gesê.
"Dit was te verwagte omdat daar so baie abnormaliteite met haar hart is; ons moet haar net elke 24 uur monitor", het dr. Pungie Lingham gesê.
Ashleigh-Karin is 13 dae gelede met Pentalogie van Cantrell gebore. Dis ’n uiters seldsame ontwikkelingsafwyking wat abnormaliteite in die borsbeen, maagwand, diafragma en hart self veroorsaak.
Sy het Sondag ’n sowat drie uur lange operasie ondergaan waarin haar misvormde borsbeen gedeeltelik herstel is.
Haar misvormde maagwand en diafragma is ook herstel.
“Sy sal nie net oornag herstel of verbeter nie. Haar toestand het nie verander nie... sy is nie ‘n normale baba nie, sy is baie sieklik,” het Lingham gesê.
- Sapa