Hart-deurbraak in Bfn
2011-07-08 06:56
Bloemfontein - Die eerste mediese ingryping in sy soort in ’n staatshospitaal in die land is in die Universitas-Akademiese Hospitaal in Bloemfontein uitgevoer toe drie mense se aorta-kleppe sonder chirurgie vervang is.
Volgens prof. Hennie Theron, kardioloog, is die prosedure, waar ’n tweedegenerasie-klep ingeplant is sonder chirurgiese prosedures die eerste in sy soort in die land. Theron en ’n span, wat onder meer ’n kardiotorakschirurg, ’n narkotiseur en ’n pediatriese kardioloog ingesluit het, het dié prosedure Woensdag op drie pasiënte uitgevoer.
“Dit was ’n reuse-spanpoging. Daar is, soos met enige hartprosedure, ’n enorme klomp komplikasies wat kan intree en waarop die span voorbereid moes wees.”
Die klep word deur die lies ingeplant en die pasiënt is onder narkose. In die buiteland word die prosedure sonder narkose gedoen. Die prosedure het drie uur per pasiënt geduur.
Theron sê een van die ergste komplikasies wat kan intree, is dat die pasiënt ’n beroerte kan kry terwyl die prosedure uitgevoer word.
“Die prosedure word meestal gedoen op bejaarde pasiënte. Die gevaar is dat die aorta verkalk het of geperforeer word. Die pasiënt bloei dan dood.”
Al drie die pasiënte waarop die prosedure uitgevoer is, herstel goed en een word reeds vandag ontslaan.
Volgens Theron is die enigste nadeel dat die klep duur is. “Die klep kos sowat R150 000. Die hele prosedure en hospitalisasie daarna sal sowat R250 000 kos.”
Hy sê dit moet gemeet word teen die chirurgiese prosedure.
“’n Pasiënt moet ná ’n tradisionele klepvervangingsoperasie vyf tot sewe dae in die hospitaal deurbring. Die totale koste kan tot R400 000 beloop. Met die nuwe prosedure word die pasiënt baie vinniger ontslaan.”
George Hammer (85) van Tweespruit is een van die pasiënte wie se klep vervang is. “Ek het al drie hartoperasies gehad en die risiko was te groot om weer ’n operasie te kry. Prof. Theron het dié nuwe prosedure voorgestel,” het Hammer gister uit sy hospitaalbed gesê. Hy sê hy voel baie goed en kan nie wag om by die huis te kom om met sy rifrug en Jack Russell te gaan stap nie.
Theron sê hy sien uit dat daar nog baie soortgelyke prosedures uitgevoer gaan word.
“Pasiënte kan baie vinniger weer ’n kwaliteit-lewe lei.”
- Volksblad