Harmse het met satanisme gespeel
2009-09-01 12:16
Johannesburg – Die swaardmoordenaar, Morné Harmse, het geëksperimenteer met satanisme, maar hy was nie self ‘n satanis nie, is Dinsdag in die hooggeregshof in Johannesburg aangevoer.
“Hy was slegs ‘n persoon wat met sy eie styl eksperimenteer het,” het dr. Jacobus Jonker, ‘n kenner van die okkulte, gedurende Harmse se verhoor gesê.
Hy het bygevoeg dat hy dink Harmse ‘n masker gedra en swaarde gebruik het as ‘n manier om ‘n mate van mag te kry.
“Hulle soek mag. Hulle wil sê: ‘Ek het mag en krag om mense te manipuleer’.”
Amptenare in die hof het verskeie swaarde en maskers op ‘n tafel in die hooggeregshof uitgestal voor Harmse se uitspraak gelewer is.
Die maskers het tuisgemaak gelyk, een wat soos ‘n hanswors se gesig opgemaak is met ‘n rooi satanistiese ster op en die ander was ‘n oranje papiergesig met stukke tou as hare.
Die ander masker het ‘n lang neus wat uit ‘n blikkie gemaak is, gehad.
Vier swaarde is ook op die tafel uitgelê.
Jacobus het gesê dat alhoewel daar in Harmse se kamer by die huis satanistiese items was, soos ‘n ouijabord, objekte met ‘n pentagon op en ‘n duiwel wat op ‘n bedstoeltjie geverf is, was daar ook baie items wat ‘n satanis nie sal gebruik nie.
Sy beddegoed en gordyne was byvoorbeeld alledaagse kleure, terwyl ‘n satanis slegs rooi of swart sal gebruik.
Toe daar aan Jacobus gevra is wat hy oor die moord dink het hy geantwoord: “Dis skokkend. Die hele besigheid breek my hart.”
- Sapa
.