Harmony-werkers betoog ondergronds
2012-12-21 11:08
Johannesburg – Sowat 1 700 werkers by Harmony Gold se Kusasalethu-myn op Carletonville weier om na die oppervlak terug te keer, het die maatskappy Vrydag in 'n verklaring gesê.
Die myners is deel van 'n dagskofspan en word deur die mynwerkersvakbond Amcu verteenwoordig, het Harmony gesê.
Hulle eis onder meer dat 578 van hul mede-werkers, wat Woensdag geskors is nadat hulle verlede week aan 'n onbeskermde staking deelgeneem het, na die myn terugkeer.
"Veiligheid en gesondheid is ons eerste prioriteit en ons sal ons beste doen om te verseker dat die mynwerkers veilig terugkeer na die oppervlak," het Harmony se uitvoerende hoof, Tom Smith, in die verklaring gesê.
Gesprekke met die werkers en Amcu is tans onderweg.
Tien myners is Donderdag by die myn in botsings met sekureitsbeamptes beseer.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA