Hare gaan waai in Gautengse DA-stryd
2012-01-22 07:02
Johannesburg – Die stryd om die DA se leiersposisie in Gauteng stuur af op ’n taai wedloop waarin gerugte oor rassepolitiek en inmenging reeds dik loop.
Vrese uit sekere oorde oor moontlike inmenging van die nasionale leierstruktuur by dié interne verkiesing, wat as een van die belangrikste in die party se geskiedenis beskryf word, doen die ronde.
Ander hou vol daar is geen bewyse van onbehoorlike betrokkenheid nie en dat sekere mense “identiteitspolitiek” en “vreestaktiek” vir eie gewin inspan.
Benoemings sluit Vrydag en die voorlopige aanduiding is dat minstens vier kandidate – waarvan net een kandidaat wit is – hulle beskikbaar gaan stel.
John Moodey, gewese Gautengse DA-leier en lid van die Gautengse wetgewer, en Sej Motau, ’n DA-LP, het aan Rapport bevestig hulle gaan hulle vir die amp verkiesbaar stel.
Ian Ollis, nog ’n DA-LP, het reeds sy veldtog begin.
Janet Semple, huidige Gautengse DA-leier, het aannames dat sy haar nié beskikbaar gaan stel nie, afgeskiet en gesê haar besluit sal in die belang van die party wees.
“Ek moet nog ’n duideliker prentjie kry; daar kan nog baie gebeur.”
Mmusi Maimane, die DA se nasionale woordvoerder, het Saterdag gesê hy het nog nie finaal besluit nie. Daar word bespiegel hy sal wel betrokke raak.
Maimane het gerugte dat Helen Zille, partyleier, haar aan sy kant skaar as “moedswillige leuens” afgemaak.
“Dis ’n sinistere poging om my moontlike deelname verdag te maak nog voordat ek enige besluit geneem het (om tot die leierstryd toe te tree).”
Die 1 134 afgevaardigdes na die DA se provinsiale kongres op 10 Maart moet besluit wie die regte mens is om die party tot 2014 se belangrike algemene verkiesing te lei.
Gauteng is ’n uiters strategiese provinsie vir die DA.
Nie net hoop die party om dié ekonomiese hartland van Suid-Afrika teen 2014 van die ANC af te rokkel nie, maar hoe die DA in Gauteng vaar, sal toon of die party werklik die vermoë het om deur die rasplafon te breek.
Die algemene uitgangspunt is dat swart kiesers aanklank moet kan vind by die DA se leier in Gauteng om die swaai waarvoor hulle hoop teen 2014 te bewerkstellig.
Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport