Hanteerder deur olifant getrap
2011-06-06 19:58
Johannesburg - ‘n Handeerder by die Knysna Olifantpark is oor die naweek deur ‘n olifant getrap, het dié park Maandag gesê.
“Arnold Ndzwanana is in ‘n stabiele toestand. Die onderste deel van sy been is Sondagaand afgesit,” het Greg Vogt, woordvoerder, gesê.
Volgens hom het die voorval Saterdagaand plaasgevind toe Ndzwanana (32) vier bul-olifante na ‘n boord verskuif het vir hul middagete en rustyd. ‘n 22-jarige olifant genaamd Harry het onder dié olifante getel.
“Daar was ‘n skofverandering en hulle is gewoonlik baie gretig om daarheen te gaan. Die drie ander bulle is geskuif en Arnold het 'Harry, skuif op,' geroep, wat ‘n bevel is vir hom om vorentoe te beweeg,” het Vogt gesê.
“Op daardie punt het Harry omgedraai en hom aangeval. Vier hanteerders het toe voor Harry gaan staan om sy aandag af te lei.”
Die park het ‘n beradingsessie vir die getraumatiseerde hanteerders gebied.
“Ons is besig om presies uit te pluis wat gebeur het... daar is soveel moontlike redes vir die aanval... dit kon Arnold se posisie gewees het, sy naskeermiddel... ons weet net nie in hierdie stadium nie,” het Vogt gesê.
Die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings (NDBV) het gesê die voorval onderstreep waarom diere wild gelaat moet word en nie uit hul natuurlike omgewings gehaal moet word “vir gebruik in die vermaaksektor” nie.
“Wilde diere sal altyd wild bly en sal mettertyd terugslaan,” het Vonny Strachan, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.
Sy het gesê daar was al verskeie aanvalle op hanteerders deur olifante in die land en oor die wêreld heen.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA