Handjievol ondersteuners by Malema-verhoor
2012-01-23 15:03
Johannesburg – Sowat 100 mense het Maandag buite Luthuli-huis in Johannesburg betoog, maar die betoging het nie verband gehou met die verhoor van die ANC-jeugliga se leier Julius Malema nie.
Hoofsupt. Wayne Minnaar van die Johannesburg-metropolisie sê die betogers was Kongolese burgers.
Hulle het hul ondersteuning gebied aan hul landsburgers wat in die hof verskyn het op aanklagte wat met ‘n betoging verlede week verband hou.
Malema se dissiplinêre appèlverhoor het Maandag by Luthuli-huis begin.
‘n Handjievol van sy ondersteuners was buite die ANC se hoofkwartiere.
Golden Miles Bhudu van die South African Prisoners Organisation for Human Rights het op ‘n nabygeleë muur gestaan met ‘n plakkaat waarop sy steun aan Malema uitgespreek word.
“Kameraad Cyril (Ramaphosa) doen die regte ding. Daar is geen saak hier nie, slegs boeie,” het die plakkaat gesê.
Ramaphosa, in sy kapasiteit as voorsitter van die ANC se appèl-komitee, sal Maandag mondelinge argumente by Malema se verhoor in Luthuli-huis aanhoor.
Ondersteuners was onseker of die verhoor reeds begin het. SABC-radionuus het teen 11:00 berig dat die verhoor onderweg was.
“Ek is al sedert 06:00 vanoggend hier. En ek sal hier wag totdat daar aan ons gesê word wat daar binne aangaan,” het Bhudu gesê.
Die 49-jarige aktivis sê hy ondersteun die ANCYL want dit bring kwessies aan die lig wat “bejaarde” ANC-lede nie geopper het nie.
“Die jeug kort wysheid van mense soos ons. Hulle het baie kritieke en sensitiewe kwessies soos grondhervorming en ekonomiese vryheid uitgelig... Kwessies wat die ouer mense nie geopper het nie.”
‘n Polisie-konvooi het teen12:00 Maandag verskeie voertuie by die gebou se gronde uitgeneem.
Amptenare wat naby was het geweier om te bevestig of Malema een van die passasiers was.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA