Handboeke glo in O-Kaap verbrand
2012-07-23 20:38
Johannesburg – Duisende verbrande handboeke is in ‘n pakhuis in Fort Beaufort in die Oos-Kaap gevind, het die DA Maandag gesê.
“Ons het aan die LUR Mandla Makupula geskryf en aangedring op ‘n verduideliking oor hoe dit toegelaat is dat waardevolle openbare hulpbronne vir kinders in die Oos-Kaap op hierdie onverantwoordelike wyse vernietig is,” het die DA se provinsiale woordvoerder vir onderwys, Edmund van Vuuren, in ‘n verklaring gesê.
Nietemin meen Loyiso Pulumani, woordvoerder van die provinsiale onderwysdepartement, die boeke wat in Fort Beaufort gevind is, is tydens ‘n voorval van brandstigting vernietig.
Die boeke was van die ou Kaapse Onderwyskollege wat in 1996 gesluit het en hou geensins verband met huidige handboeke nie, het Pulumani gesê.
“Die ou stoorkamer het op 16 Junie afgebrand. Dit was vermoedelik ‘n voorval van brandstigting. Die boeke is meer as 10 jaar oud.”
Van Vuuren sê die boeke, wat meestal wiskunde-handboeke was, is deur ‘n inspeksiespan van die DA gevind.
“Gegewe die groot tekortkoming in beide handboeke en werkboeke by skole het elke enkele boek wat nie by ‘n skool uitkom nie ‘n impak op ‘n kind se vermoë om te leer,” het hy gesê.
Bokse boeke wat nog in hul verpakking was, is in ander dele van die pakhuis gevind.
“Die departement sal moet rekenskap gee vir hoeveel bokse boeke nog in die pakhuis is en wanneer dit aan skole afgelewer sal word,” het Van Vuuren gesê.
Die Oos-Kaap is net soos Limpopo deur probleme met die aflewering van handboeke geteister.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA