Halveer toltariewe, eis DA
2011-10-22 13:56
Johannesburg – Die DA wil hê die voorgestelde toltariewe vir Gautengse tolpaaie moet óf halveer word óf heeltemal gespkrap word, het 'n inwoner van Alexandra Saterdag gesê.
"Ons sal gelukkig wees met 20 sent per kilometer vir ligte voertuie, want dis altyd beter om 'n 50 persent-afslag te kry," het Shadrack Mkhonto gesê.
Lede van die Demokratiese Alliansie het Saterdag by die Pan Africa-winkelsentrum in Alexandra, noord van Johannesburg, byeengekom om teen die voorgestelde toltariewe protes aan te teken.
Betogers, geklee in blou DA-T-hemde, het plakkate omhoog gehou met die woorde: "Blaas jou toeter vir 'n tolvrye GP (Gauteng)".
Die meeste van die motoriste wat verby die groep gery het, het hul toeters geblaas.
Janet Semple, leier van die DA in Gauteng, het gesê die ekonomiese uitwerking van die toltariewe word goed verstaan deur die meeste mense.
"Sommige van die uitwerkings van die tolpaaie is hoër kostes, van klein ondernemings wat voedsel vervoer van ander provinsies sowel as dienste... die lewenskoste sal styg as gevolg van die toltariewe," het sy gesê.
Semple het gesê soortgelyke protesoptogte sal volg, met 'n groter optog wat later deur Helen Zille gelei sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA