Haïti se Aristide kos SA al R30 miljoen oor ses jaar
2010-07-09 08:23
Die Burger
Kaapstad - Oudpres. Jean-Betrand Aristide van Haïti se verblyf in Suid-Afrika het die land die afgelope ses jaar sowat R30 miljoen, dus R5 miljoen per jaar, gekos, het die DA Donderdag bereken.
Die regering het vroeër in antwoord op ’n parlementêre vraag bevestig Aristide geniet dieselfde voordele as dié van ’n kabinetslid.
Hierdie voordele sluit in verblyf, vervoer, kantoorpersoneel en veiligheidsmaatreëls.
Die regering het in sy antwoord nie die geldelike waarde van hierdie voordele voorsien nie.
Aristide en sy gesin woon al ses jaar in Suid-Afrika. Hy en sy vrou, Mildred, werk altwee as navorsingsgenote by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria.
Aristide kan nog onbepaald in Suid-Afrika aanbly. Die departement van internasionale betrekkinge en samewerking het vroeër gesê dit sal wees totdat omstandighede in sy eie land verbeter, maar kon nie uitstippel presies watter omstandighede geskik sal wees vir sy terugkeer nie.
Die DA-LP Stevens Mokgalapa meen die regering se antwoord oor Aristide se verblyfkoste is opsetlik vaag.
“Dit is nogtans moontlik om ’n berekening te maak deur die mees konserwatiewe ramings te gebruik.
“Ministeriële wonings word gewoonlik gewaardeer op tussen R3 miljoen en R4 miljoen en motortoelae ongeveer R1,2 miljoen.
“Die departement sê nie hoeveel personeellede Aristide se sake bestuur nie, maar selfs al het hy net drie mense in diens kan die koste maklik te staan kom op R500 000 per jaar.
“Wat sekuriteit betref, dít word bepaal deur die BBP-eenheid ingevolge die behoeftes van die betrokke persoon. Verlede jaar is onthul pres. Jacob Zuma se sekuriteitsmaatreëls kos ongeveer R1 miljoen per maand. As Aristide se koste selfs net ’n twintigste is daarvan, kan dit R50 000 per maand beloop,” het Mokgalapa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter.