Haffajee se eis sal nie slaag, sê Miyeni
2011-08-03 08:25
Kaapstad – Die rubriekskrywer wat in die pad gesteek is nadat hy van haatspraak beskuldig is, oorweeg dit om sy voormalige werkgewers te dagvaar.
Eric Miyeni het in sy rubriek “Haffajee does it for white masters” na Ferial Haffajee, redakteur van City Press, as ’n “swart slang in die gras” verwys en gesê dat sy in die 1980’s waarskynlik ’n “brandende buiteband om haar nek (sou) gehad het”.
Die rubriek het eergister in Sowetan verskyn en hewige reaksie ontlok. Miyeni se rubriek is dieselfde dag gekanselleer. Dié besluit van die mediamaatskappy Avusa is ook op sosiale netwerke gekritiseer omdat dit alle skuld op Miyeni gepak het.
“Wat van die redakteurs se aanspreeklikheid? Hulle het die rubriek Donderdag al ontvang en dit eers dae later geplaas. Hulle het die opskrif geskryf, nie ek nie,” het Miyeni aan Beeld gesê.
“Dit is die derde keer wat dit gebeur. Hulle het dieselfde met David Bullard en Kuli Roberts gedoen.”
Bullard, ’n voormalige rubriekskrywer vir die Sunday Times, het in 2008 die trekpas gekry nadat een van sy Out to Lunch-rubrieke as rassisties beskryf is.
Kuli Roberts se skrywe in Sunday World oor bruin vroue het vroeër vanjaar opslae gemaak. Haar rubriek is ook gestaak. Albei publikasies is in die Avusa-stal.
Miyeni het gesê hy het “glad nie” so ’n reaksie op sy rubriek verwag nie. “Dis ’n groot skok.”
Hy oorweeg regstappe teen Avusa.
Oor Haffajee se besluit om hom te dagvaar, het hy gesê dit sal ’n “ongelooflike toets” vir spraakvryheid wees. “Ek dink nie sy sal wen nie.”
Die ANC-jeugliga het intussen in ’n verklaring gesê hulle steun Miyeni ten volle.
Mondli Makhanya, hoofredakteur van Avusa Newspapers, het gesê ’n ondersoek sal gedoen word. “Daardie rubriek moes nooit deurgegaan het nie.” Toe hy ingelig is oor Miyeni se voorneme om stappe te doen, het hy gesê dié is nie afgedank nie, sy rubriek is gestaak. “Ons het geen kontrak met hom gehad nie.”
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld