'Haatkamp' moet ondersoek word, sê DA
2012-02-24 22:54
Johannesburg – Die menseregtekommissie (MRK) moet ondersoek instel na berigte dat ‘n jeugkamp in Mpumalanga seuns oplei om swartes te haat, het die Demokratiese Alliansie gesê.
“Hierdie opleiding sluit die hantering van ‘n vuurwapen in, asook politieke indoktrinasie om rassehaat aan te moedig,” het Mmusi Maimane, ‘n woordvoerder, gesê.
Die kamp buite Carolina, wat Kommandokorps genoem word, beweer die kamp het reeds meer as 1 500 seuns opgelei.
Die Kommandokorps se instrukteurs het die tieners geleer hoe om soldate te word en hulle probeer oortuig daar is ‘n rasse-oorlog in die land, het die Mail & Guardian berig.
Die kampleier, Franz Jooste (57), het glo aan die seuns so jonk as 13 gesê hulle gaan regte mans word en dat swart mense minderwaardig is en nie daartoe in staat is om te regeer nie, het die koerant berig.
Maimane gaan die MRK vra om vas te stel of die aktiwiteite by die kamp wettig is.
“Die tragiese plaasmoorde wat onlangs dele van die land geruk het, het baie mense kwaad gemaak...” het Maimane gesê.
“Maar rasse-organisasies soos hierdie een is nie die oplossing nie...”
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA