'Haat is selde die rede vir geweld'
2011-02-27 12:45
Johannesburg - Plaasaanvalle waar haat die motief is, kom wel voor, maar dit is in die minderheid.
So sê Jan van Niekerk, voorsitter van die Ficksburg-boerevereniging in die Oos-Vrystaat.
Volgens die veiligheidskoördineerder vir dié distrik word boere grootliks geteiken weens die indruk dat daar geld en wapens op plase is.
“Dit is ’n wanindruk omdat boere deesdae alles elektronies oorbetaal en nie meer hope geld in die kluis hou nie. Oortollige wapens is ook kragtens wet ingegee,” sê Van Niekerk.
Misdaad op boere is makliker omdat hulle as ’n “sagte teiken” gesien word, want hulle woon afgeleë en geïsoleerd.
Hennie Gerber van Vrystaat Landbou se Landelike Beveiliging glo nie daar sit duistere magte agter plaasmoorde nie, maar hoop as iemand wél sulke inligting het “hulle dit aan gemeenskappe sal deurgee”.
Die landelike veiligheidsplan in die Vrystaat maak grootliks staat op die insameling van inligting om eerstens voorkomend op te tree teen moontlike aanvalle op boere.
Isaac Khoto is ’n veeboer in die gebied wat baie betrokke is by al die plaasaksies in die distrik en net so erg onder die misdaad soos sy medeboere deurloop.
“Misdadigers hou nie verby sy plaas oor sy kleur nie,” het die reaksiehoof gesê.
Phembi Mothebe, ’n boervrou van Ficksburg, se honde is selfs al tydens sulke voorvalle doodgeslaan.
Plaaswerkers is ook bang wanneer daar ’n aanval op plase is. Die moord op ’n boer beïnvloed hulle regstreeks, het die veiligheidskoördineerder gesê.
“Dié voorvalle het ’n enorme impak op ons daaglikse leefwyse. Dertig jaar gelede was dit heeltemal anders. Eindelik kan dit daartoe lei dat niemand meer op plase wil bly nie en ons voedselsekerheid in gevaar gestel word,” het Van Niekerk gesê.
Tog bly hy positief.
“Ons het steeds ’n goeie lewenstandaard, al moes ons baie aanpassings maak en is dit nie soos in ons oupas se tyd nie. Veiligheid moet ’n leefstyl word.”
- Rapport