Haarsalon-werker se rykmanslewe onthul
2010-06-24 09:55
Marelize Barnard, Die Burger
Wes-Kaap - ’n Luukse BMW X5, ontwerpersklere, Persiese tapyte en swaar houtmeubels in ’n splinternuwe herehuis...en die skielike aankoop van ’n waterponie op ’n Vrydagmiddag vir ’n bietjie naweekpret.
Dít is die beeld van Alida Nel, gewese ontvangsdame by ’n haarkapper en “super-agent” van die berugte King-groep, by haar voormalige beleggersvriende in Citrusdal.
Sy was die “vriendin” wat “pelle” en familie aan mekaar voorgestel het om in die Kings, van Wellington, se droom van rykdom te deel. Nel het self ’n spogeiendom by Windmeul net buite die Paarl gekoop.
Dit is ook dié Nel wat op 1 September 2009 in ’n e-pos-boodskap aan haar kliënte geskryf het dat sy te alle tye elkeen van hulle se belange eerste gestel het – dié Nel wat “ingesluk” is deur haar werk en “tot snags laat gewerk het” en aangevoer het dat sy om dié rede baie kommissie verdien en vinnig opgang gemaak het.
Of soos Nel verder in haar e-pos verduidelik: “Realiteit is dat alle kommissies wat verdien is, teruggeploeg is in eiendomme wat ek van King aangekoop het...”
Wanneer ’n mens deur Voortrekkerstraat in Citrusdal ry, kan jy die een na die ander gebroke belegger opsoek wat uiteindelik begin besef hul beleggings van miljoene rande is daarmee heen.
Een vrou, wat net as mev. De Villiers geïdentifiseer wil word, het Woensdag aan Die Burger vertel hoe sy drie weke lank in ’n “senuweekliniek” beland het en dat sy steeds anti-depressante moet drink nadat sy en haar man weens die King-beleggings nou met skuld van R2,6miljoen sit.
“My pa in Piketberg se hele pensioenbelegging van R800000 is weg. Hy het verbande van R390000 en R660000 op sy huis en woonstel uitgeneem. Hy het nou sy huis verkoop.”
De Villiers het bygevoeg haar pa is huilerig, baie emosioneel en verbitter.
Net verder af in Voortrekkerstraat vertel ’n sakevrou, Eve Burger, dat sy kwaad was vir haar man omdat hy nie alles by die Kings wou belê nie.
“Sy (Nel) het gesê: ‘Teken, teken, teken, ek het baie werk.’ Dan het ons haar so vertrou.”
Maar in ’n stadium het Burger se man, Petrus, gesê: “Te moer daarmee.”
Dit was toe Nel voorgestel het hulle moet alles vat wat hulle het om daarmee ’n sakeryk te bou.
- Die Burger