Haarkapper se lyk in kar voor winkel gekry
2010-12-28 09:20
Pretoria - ’n Bekende Pretoriase haarkapper is op Kersaand vermoor in sy motor voor die Superspar in Menlopark, Pretoria, gekry.
Alden Smith (37), eienaar van Options Hair Design in Brooklyn, is vermoedelik verwurg. Hy het in die passasiersitplek van sy Audi A3 gesit.
Dit is nog nie presies duidelik wat die omstandighede rondom Smith se dood is nie, maar alle moontlikhede word ondersoek, het brig. André Wiese, stasiebevelvoerder van die Brooklyn-polisiekantoor, Maandag gesê.
Een van die moontlikhede wat bekyk word, is dat Smith by sy huis in Charlesstraat deur aanvallers oorval en gekaap is waarna die aanvallers met hom na die Superspar in Menlopark gery en hom daar vermoor het.
Daar is ’n kitsbank langs dié Superspar.
Smith het op Kersdag saam met sy suster, mev. Onica Jakob (45), en haar man, Chris (35), in Wonderboom, in die noorde van Pretoria, deurgebring. Volgens mev. Jakob het hy omstreeks 17:15 by hulle gery.
Op Kersaand omstreeks 22:30 het die alarm van Smith se haarsalon, wat aan sy huis is, afgegaan. Die veiligheidsmaatskappy kon hom nie in die hande kry nie en het toe mev. Jakob, wat saam met hom by die salon werk, gebel. Mnr. Jakob het na die salon gery.
“In die tussentyd het ons heeltyd my broer se selfoon gebel, maar hy het nie geantwoord nie. Wat ons nie geweet het nie, was dat hy reeds dood was,” het mev. Jakob gesê.
’n Patrollievoertuig het vroeër op Smith se lyk afgekom.
Terwyl mnr. Jakob voor die salon gestaan het, het polisielede opgedaag. “Ek het die polisievrou vertel van my swaer se wit Audi A3 wat ’n maand gelede gesteel en toe weer gevind is, maar het nie vermoed dat die motor wéér gesteel is nie,” het hy gesê.
“Sy het my toe gesê hulle het ’n noodlottige voorval op in die straat en daar staan ’n Audi A3 op die toneel. Sy het my gevra om haar te volg. Op die toneel het ek vir hulle verduidelik hoe my swaer se motor aan die binnekant lyk en hulle het gesê dit is syne.
“Ek moes hom gaan uitken.”
Mnr. Jakob het sy vrou gebel wat na die toneel gegaan het waar sy by haar broer se lyk gesit het totdat die lykswa hom kom haal het.
Mev. Jakob het gesê: “Ek sal nooit vergeet hoe ek my broer gesien het in daardie motor nie. Sy bril was gebreek en sy skoene was van sy voete af gesteel. Deur so iets word almal se lewe verwoes. Vir my is dit nog nie waar nie.”
- Beeld