Haai skeur glo persoon in twee
2010-01-12 17:01
Charlotte Scheepers
Kaapstad - ’n Ongeïdentifiseerde persoon is Dinsdag glo in Vishoek in die Wes-Kaap deur ’n haai verskeur.
'n Ooggetuie, Greg Coppen, het op die sosiale webwerf Twitter geskryf van ’n "enorme haai" wat in Vishoek in die see naby Clovellyweg gesien is.
Die haai was glo besig om "iets, wat gelyk het soos die oorskot van 'n mens, te eet."
"Die haai was groot. So groot soos 'n dinosourus," het Coppen geskryf.
Coppen het aan Nuus24 gesê hy en sy vrou het 'n beweging in die water gesien, en sekondes daarna die kop van 'n reusehaai uit die see sien beur.
Die voorval het glo sowat 150m van die kus af plaasgevind.
Die haai het, wat Coppen beskryf het as 'n "rooi voorwerp", tussen sy kake onder die water ingetrek.
Die NSRI het die aanval Dinsdagmiddag aan Eyewitness News bevestig en gesê 'n noodoperasie was onderweg.
Ian Klopper van die NSRI het aan News24 gesê "die slagoffer was na bewering 'n wit man tussen die ouderdom van 32 en 38" en dat hulle steeds besig is om na die liggam te soek.
Volgens Coppen het 'n ander Twitter-gebruiker egter gesê nooddienste het 'n halwe liggaam in die water aangetref, maar niks is op die stadium nog bevestig nie.
- Nuus24