Haai-aanval: Slegs swembril gevind
2010-01-12 22:45
Kaapstad - Vishoek , Muizenberg- en Sunrise-strand is gesluit na ‘n toeris deur ‘n enorme haai in Vishoek aangeval is.
Die middeljarige man het blykbaar in die vlakwaters gestaan toe die haai hom gryp.
Die aanval het Dinsdag net na drie-uur die middag plaasgevind.
Volgens Ian Klopper van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en helikopter-reddingspan, het die haai ten minste drie keer verby die strand geswem.
Met die eerste verby-swem, het die toeris sy hande in die lug gegooi en wild gewaai.
Die haai het ‘n tweede keer verby die toeris geswem, maar dié keer het die haai hom na onder getrek.
Kort daarna is die haai weer naby die swem-area opgemerk.
Reddingspanne het met behulp van ‘n boot en helikopter na die slagoffer gesoek, maar moes die soektog stopsit toe dit donker word.
Al wat hulle kon vind was sy swembril.
Die soektog sal Woensdagoggend om sewe-uur voortgesit word.
Strande sal weer oop wees sodra dit as veilig beskou word.
Die slagoffer se vrou het trauma berading ontvang en is huis toe om haar familie te kontak.
Die naam van die oorledene is nog nie bekendgemaak nie.
- Nuus24