Gyselaarsdrama ontvou by plakkershut
2011-09-03 20:13
Johannesburg – 'n Familie is Saterdag deur 'n beweerde kaper in Orlando-Wes in Soweto in hulle eie plakkershut as gyselaars aangehou, het die Gautengse polisie gesê.
Drie gewapende mans het om 07:20 'n afleweringsvoertuig in Orlando-Oos gekaap, het lt.kol. Lungelo Dlamini gesê.
Die bestuurder en passassiers is van R2 000 en twee selfone beroof en is agterin die voertuig gedwing terwyl die kapers daarmee weggery het.
Toe die kapers besef die polisie is op hulle spoor, het hulle uit die voertuig gespring terwyl dit nog beweeg het en te voet gevlug. Die voertuig het teen 'n huis se muur gebots.
Die drie mans het in verskillende rigtings gehardloop en die polisie het een van die mans, wat gewapen was, agtervolg.
Een van die kapers het oor 'n huis se muur gespring. Die polisie het in die volgende straat in dieselfde rigting gery, en 'n huilende kind uit 'n huis sien hardloop.
Sy het gesê 'n vreemdeling het in hulle plakkershut ingehardloop en hou haar ouers aan.
Die polisie het die plakkershut omsingel terwyl 'n helikopter oor die plakkershut gehang het. Die polisie het die kaper beveel om hom aan hulle oor te gee.
Die kind se pa het daarna uit die plakkershut gehardloop en gesê die kaper het homself geskiet.
Die kaper is dadelik dood. 'n 9 mm-pistool is op die toneel gevind.
Die polisie soek nog na die ander twee verdagtes, wat vermoedelik in Orlando woon, het Dlamini gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA