Gyselaar sterf in bloedige drama op Harrismith
2011-05-13 07:06
Harrismith - ’n Polisiekonstabel, ’n voortvlugtige misdadiger en ’n middeljarige vrou van die dorp is Donderdag dood in ’n skiet- en kapingsdrama wat inwoners hier geskok en in ongeloof gelaat het.
’n Gedugte speurder van die dorp, ao. Olifant Mokoena, is agt keer raakgeskiet en was Donderdagaand laat steeds in ’n ernstige toestand in ’n Bloemfonteinse hospitaal.
Avelene Botes (in haar vroeë 50’s), ’n inwoner wat in die orgie van geweld gekaap is, het ook gesterf.
Die drama het Donderdag omstreeks 10:40 begin toe vyf vermeende gewapende rowers in ’n wilde skietery by die landdroshof ontsnap het. Hulle het die konstabel se dienspistool by hom afgeneem en hom in die kop geskiet. Mokoena is talle kere in die bors geskiet.
Die vermeende rowers het daarna met die pistool en twee R5-gewere die strate voor die hof ingevaar
Sowat 500 m van die hof af het hulle Botes in haar wit Mercedes-Benz voorgekeer. Sy wou uitklim maar hulle het haar in die motor teruggeruk en daarmee weggejaag.
Omstanders het vervaard gekoes en weggeduik toe die vuurwapens links en regs op hulle gerig is.
In Bluegumbush, naby Phuthaditjhaba, het die rower agter die stuur beheer oor die motor verloor en teen ’n winkelmuur vasgejaag.
Hy is op die toneel dood.
Botes, wat ernstig in die botsing beseer is, het later in die hospitaal gesterf, moontlik aan ’n hartaanval.
Petrie Jonker het Donderdag oor sy tannie se dood gesê: “Dit is skokkend. Dit is hartseer en verskriklik. As jy soggens opstaan, verwag jy nie so iets gaan met jou gebeur nie.”
André Bester, van ’n sake-onderneming in Stuartstraat, het aan Volksblad vertel hoe die kaping reg voor hom en sy kollegas afgespeel het.
“Ons het die volgende oomblik net die mans in die straat sien afhardloop. Toe hulle na ons draai, kon ons die wapens sien.
“Hulle het aan die voertuie in die straat se deure gevoel of dit oop is. Toe tannie Avelene met haar kar om die hoek kom, het hulle haar dadelik voorgekeer, haar na die passasiersitplek toe geskuif en weggejaag. Sy het probeer uitklim, maar hulle het haar teruggeruk.”
Bester en sy kollegas sê hulle kon nie glo wat gebeur nie.
“Ek voel so sleg. Ons wou help, maar die ouens het die geweer op ons gerig.”
’n Ander vrou van die onderneming onthou hoe Botes probeer uitkom het.
“Die deur was in ’n stadium oop. Ek kon sien sy het iets wit aan. Hulle het haar teruggeruk. Dit is verskriklik.”
Volgens ’n polisiebeampte het die drama begin kort nadat ses vermeende rowers met ’n vangwa by die hof aangebring is. Hulle moes Donderdag juis hier in die beskuldigdebank staan omdat hulle glo ook ’n vorige keer ontsnap het.
Volgens die polisiebeampte by die hof was die mans se voetboeie reeds los toe die vangwa oopgemaak is.
“Dit lyk asof hulle dit met ’n stukkie yster oopgemaak het. Hulle het dadelik die konstabel se pistool gegryp en hom in sy kop geskiet.
“Die adjudant-offisier (Mokoena) wat wou help, is agt keer geskiet.
“Een van die mans het homself dadelik oorgegee, maar die ander vyf het met die pistool en twee R5-gewere by die hof se hoofingang uitgehardloop.”
Sekuriteitswagte by die hof-ingang sê hulle moes platval omdat die ontsnappers wild geskiet het.
“Hulle het hier by die ingang uitgehardloop en sommer in die straat geskiet – pa-pa-pa. Ons was bang. Ons het gedink hulle gaan ons almal skiet,” het een van die sekuriteitsbeamptes gesê.
Donderdagmiddag met Volksblad se besoek aan die hof was daar oral bloedspore soos die gewonde polisieman rondgehardloop het op soek na hulp.
Hy is na die hospitaal gebring en was Donderdagaand steeds in ’n ernstige toestand in ’n hospitaal in Bloemfontein waar hy om sy lewe geveg het.
Buite waar die vangwa Donderdagroggend met die ses gewapende rowers gestop het, het ’n groot plas bloed steeds gelê.
“Dis waar hy dood is,” het iemand beduie na die plek waar die konstabel in die kop geskiet is.
Die vier vermeende misdadigers wat die botsing oorleef het, is weer in hegtenis geneem en agter tralies.
Die polisie wou nie die naam van die konstabel bekend maak nie, omdat sy familie eers ingelig moet word.
- Volksblad