Grusame einde vir ontvoerde meisie
2011-10-13 09:04
Johannesburg – Die erg verkoolde lyk van ’n jong meisie wat vroeër die dag op pad skool toe ontvoer is, is Woensdag op ’n plaas naby Magaliesburg gekry.
Louise de Waal (16) is Woensdag vroegoggend, vier dae voor haar 17de verjaardag, op pad na die Hoërskool Die Burger in Roodepoort ontvoer.
Haar familie het Woensdagaand aan EWN gesê hulle het Louise geïdentifiseer aan die naeltjiering wat sy gehad het.
Louise en Natasha Gorden (17) is deur ’n jong man in ’n silwergrys Toyota Hilux sonder nommerplate voorgekeer.
Die man het ’n pistool gehad en gedreig om die meisies net daar dood te skiet as een van hulle probeer skree of weghardloop.
“Ek het nie geweet wat om te doen nie, ek het nie geweet of ek moet skree of weghardloop of agter die bakkie aanhardloop nie,” het Natasha Woensdag vertel.
Natasha se pa het haar oudergewoonte omstreeks 07:20 by Louise se woning in Rinastraat afgelaai, waarna hulle skool toe gestap het.
Natasha het ongemaklik geword toe sy die bakkie in Rinastraat gewaar. Die voertuig het stadig verby hulle beweeg en toe ’n U-draai gemaak.
“Ek het net die gevoel gekry dat iets nie lekker is nie en ek het vir Louise gesê om nie regs te kyk wanneer dié ou verby ons ry nie.
“Die voertuig het langs ons gestop en ek het vir Louise gesê dat ons nou moet hardloop vir al wat ons werd is. Voordat ons kon wegkom, het die bestuurder uitgespring, Louise aan haar skoolbaadjie gegryp en haar gedwing om in die kar te klim.”
Volgens Natasha het die man reguit verby haar gepyl om Louise te gryp, sonder om twee keer na haar te kyk. “Ek verstaan dit nie, hy het my eintlik uit die pad uit gestamp om by Louise uit te kom.”
Louise was doodstil en te geskok om terug te veg.
Natasha het haar aan die een arm gegryp en probeer om haar uit die voertuig te stoei, selfs nadat die man gedreig het om haar te skiet, maar dit was tevergeefs.
Louise se ma, Shireen de Waal, het Woensdag gesnik: “Louise is my engeltjie, hoe kan so iets gebeur?
“Het sy dalk van haar modelfoto’s op Facebook gesit? Kon hierdie man haar geteiken het nadat hy daarop afgekom het?”
Louise se pa, Lourens, woon in die Kaap en het Woensdag in trane uitgebars toe hy hoor sy dogter is ontvoer.
Lt.kol. Tshisikawe Ndou, provinsiale polisiewoordvoerder, het gisteraand bevestig dat die polisie die verbrande lyk van ’n jong meisie op ’n verlate plaas in die Magaliesberg ontdek het en in Roodekrans, Roodepoort, op ’n voertuig beslag gelê het soos dié een wat Natasha beskryf het.
Die polisie het Louise se skoolsak ook in die voertuig gekry.
Die verdagte se identiteit is aan Volksblad bekend, maar die polisie het gevra dat sy naam nie genoem moet word nie.
Die polisie het hom na bewering ook ’n paar jaar gelede ondersoek, omdat hy glo sy visier op skoolmeisies in die Roodepoort-gebied gestel het.

Die vermeende moordenaar is in sy laat twintigs tot vroeë dertigs. Ooggetuies beskryf hom as ’n lang maer man met deurmekaar bruin hare en donkerbruin oë. Hy het ’n wit driekwart-langbroek en helderrooi hemp aangehad.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad