Gru-ongeluk in Heidelberg eis vyf
2011-12-16 23:00
Johannesburg – Vyf mense is dood en een is ernstig beseer in 'n trompop-botsing Vrydag tussen twee motors in Heidelberg in Gauteng, het paramedici gesê.
Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, maar nooddienspersoneel het gesê 'n VW Polo en 'n BMW het teen 'n hoë snelheid gebots.
Daar was drie insittendes in die VW Polo, 'n ouma, ma en driejarige dogterjie. Al drie het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar.
Die BMW het ook drie insittendes gehad, 'n egpaar in hul sestigs en 'n 13-jarige seun. Die egpaar is op die toneel dood verklaar.
Die 13-jarige seun het 'n ernstige kopbesering opgedoen.
Hy het mediese behandeling ontvang voordat hy na 'n nabygeleë hospitaal geneem is.
Plaaslike polisiebeamptes is tans besig om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA