Gru-ongeluk: Vragmotor het stilgestaan
2011-11-15 08:44
Kaapstad – Die vragmotor waarteen 'n taxi op die N1 gebots het, het ten tyde van die ongeluk stilgestaan, het Keri Davids, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid se nooddienste, in 'n verklaring gesê.
Opruimingswerk is nog aan die gang op die N1 tussen Leeu Gamka en Laingsburg ná die ongeluk waarin ses mans, twee seuns en 12 vroue dood is. Sestien mense is in die ongeluk beseer.
Volgens verkeersowerhede het 'n taxi, wat na Kaapstad onderweg was, reg van voor teen 'n vragmotor gebots waarna nog 'n taxi van agter teen die eerste taxi gebots het, berig RSG.
Die ongeluk het omstreeks 01:00 tussen Leeu Gamka en die Prins Albert-pad plaasgevind.
Twee mans is in 'n kritieke toestand in die hospitaal. Nóg 'n pasiënt het harsingskudding opgedoen en albei sy enkels gebreek. 'n Ander pasiënt het sy been en voet gebreek. Dié mense is na die Laingsburg- en Beaufort-Wes-hospitaal geneem.
Twee vroue en twee mans is ernstig beseer en is na die Prins Albert-, Laingsburg- en Beaufort-Wes-hospitaal geneem.
Agt ander mense, waaronder drie kinders, het ligte beserings opgedoen en word in die Prins Albert-hospitaal behandel.
'n Saak van strafbare manslag word ondersoek.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24