Gru-ongeluk: Taxi het uitgebrand
2011-12-01 10:00
Nelspruit – Agttien mense, waaronder 'n tweejarige kind, is dood nadat 'n taxi buite Belfast in Mpumalanga teen 'n vragmotor gebots het, het 'n beampte gesê.
"Die taxi was heeltemal uitgebrand," het Joseph Mabuza, provinsiale woordvoerder van die departement van gemeenskapveiligheid, gesê.
Die taxi, wat 17 mense vervoer het, het vermoedelik uit sy laan beweeg en teen die aankomende vragmotor gebots. Die ongeluk het omstreeks 04:00 op die N4 buite Belfast plaasgevind.
Die vragmotor het die taxi gesleep en albei voertuie het aan die brand geslaan.
Met paramedici se aankoms op die toneel het lyke langs die pad gelê. Teen 09:20 is 14 lyke, insluitend dié van 'n tweejarige kind, uit die taxi verwyder.
"Die lyke is onherkenbaar verkool."
Die vragmotorbestuurder is ook dood.
Die taxi was vanaf Mosambiek onderweg na Johannesburg, terwyl die vragmotor vanaf Johannesburg na Nelspruit gereis het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA