Groot vieringe vir Madiba
2010-02-11 10:42
Kaapstad – Belangrike gaste het Donderdag by die Drakenstein-gevangenis naby die Paarl begin aankom vir ‘n viering van die 20ste herdenking van Nelson Mandela se vrylating uit die tronk.
Die oggend, wat deur die ANC georganiseer word, sal afskop met ‘n ontbyt in ‘n markiestent wat op die tronk se gronde opgerig is.
Onder die gaste wat vroeg gearriveer het, was Mathews Phosa, die tesourier van die ANC wat ook by die ontbyt ‘n toespraak sal lewer, Mandela se vriend uit die tronk, Ahmed Kathrada en die struggle veteraan, Mac Maharaj.
Na die ontbyt sal daar ‘n optog deur die gevangenis-hekke wees om Mandela se eerste treë na vryheid in 1990 te simboliseer.
Mandela het net oor ‘n jaar in Drakenstein, wat toe bekendgestaan het as Victor Verster, spandeer.
Mandela sal nie die geleentheid bywoon nie, maar hy sal wel by president Jacob Zuma se staatsrede wees Donderdagaand.
- Sapa
– ‘n Regstreekse uitsending van pres. Jacob Zuma se staatsrede is vanaand op Nuus24 se tuisblad beskikbaar.