Groot belangstelling in Malema-liedjie
2011-11-17 18:46
Johannesburg – ‘n Omstrede liedjie oor die geskorste leier van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, wek baie belangstelling by die publiek, maar het teen Donderdag nog nie die rakke van musiekwinkels in Durban getref nie.
Jet Music en Musica het gesê die CD is nog nie beskikbaar nie, maar dat daar groot belangstelling by die publiek is.
“Mense het ingekom en gevra of ons die CD het sedert die nuus gebreek het dat daar ‘n liedjie oor Malema is,” het ‘n winkelassistent in Musica, Patience Hlengwa, gesê.
Shobeni Khuzwayo, die vervaardiger van die liedjie, het aan die Merucry-koerant gesê die CD sou teen Donderdagmiddag in winkels beskikbaar wees.
Deen Chetty, winkelbestuurder van Discs City, het gesê die winkel het nie voorraad van die CD nie, maar het ‘n bestelling geplaas.
Volgens Khuzwayo is dit moontlik dat winkels nie die CD het nie omdat ons bestellings toegeneem het en dit tot ‘n vertraging in die proses gelei het.
Izingane Zoma, ‘n maskandi-groep, het luidens berigte ‘n liedjie geskryf waarin Malema se gedrag gekritiseer word.
Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal van die ANC-Jeugliga, het gesê die liga sal die vrystelling van die liedjie in die hof beveg en die groep vir naamskending dagvaar.
“As hulle daardie simpel liedjie gaan vrystel, sal ons hulle hard tref,” het Magaqa gesê.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA