Grondwet moet verander vir skietwet
2009-10-03 08:19
Kaapstad - Die Grondwet sal gewysig moet word as pres. Jacob Zuma dit vir polisiebeamptes makliker wil maak om vlugtende verdagtes dood te skiet.
Regskenners waarsku egter die regering is op die verkeerde spoor as hy die Grondwet wil verander sodat polisiebeamptes meer mag oor lewe en dood het.
“Niemand met gesonde verstand wil in só ’n land lewe nie. Onredelike en onbillike geweld deur die staat is eintlik baie gevaarliker as wanneer dit deur burgerlikes gepleeg word,” het ’n regter op voorwaarde van anonimiteit gesê.
Art. 49(2) van die Strafproseswet, die sogenaamde “hardloop-en-skietwet”, is juis in 2002 ongrondwetlik verklaar om magsvergrype te voorkom en omdat dit beamptes gemagtig het om verdagtes straffeloos dood te skiet as die persoon hom teen inhegtenisneming verset of probeer vlug.
Tog wil Nathi Mthethwa, minister van polisie, hê beamptes moet maksimum geweld teen gevaarlike geweldsmisdadigers kan gebruik. Sy woordvoerder, Zweli Mnisi, het gister gesê die voorgenome wysigings aan art. 49 sal vanjaar nog in die parlement ter tafel gelê word.
Persepsies dat dié wysigings die polisie se werk makliker gaan maak, word versterk deur die hoë misdaadsyfers wat verlede week bekend gemaak is en die verskriklike geweld wat daarmee gepaard gaan.
Volgens prof. Pierre de Vos, dosent in grondwetlike reg aan die Universiteit van Kaapstad, het die polisie reeds genoeg vryheid om hul werk te doen. “Die bepalings wat tans geld, gee die polisie al die skietgoed wat hulle nodig het, maar verhoed terselfdertyd dat beamptes nie soos in die apartheid-tyd skietlustig raak nie.”
Geen wet verbied die polisie of ’n burgerlike om iemand dood te skiet as hy of sy ’n wesenlike gevaar inhou nie.
En, anders as wat beweer word, vereis geen wet dat die polisie eers ’n waarskuwingskoot moet afvuur nie.
- Die Burger