Grondplafonne bly vir Agri SA ’n probleem
2011-08-27 11:00
Johannesburg – Hy is positief oor talle aspekte van die jongste groenskrif oor grondhervorming, maar daar is talle sake wat nog aandag kort, het dr. Theo de Jager, visepresident van Agri SA, Vrydag gesê.
Die kabinet het die groenskrif vandeesweek goedgekeur nadat hy dit vroeër talle kere na die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming teruggestuur het om te verfyn.
“Daar is positiewe uit die groenskrif. Vir die eerste keer sedert 1994 kry die nalatenskap van apartheid nie alleen die skuld vir die probleme met grondhervorming nie,” het De Jager gesê.
“Vir die eerste keer in 17 jaar kry wanadministrasie in die departement ook die skuld vir die gebrek aan grondhervorming. Ons sê dit al lankal.”
Hy het mnr. Gugile Nkwinti, die minister, geloof omdat hy, anders as sy voorgangers, bereid is om na die georganiseerde landbou te luister en foute te erken.
“Ons gesprekke met hom het vrugte afgewerp.
“Ek is verlig die groenskrif is nou in die openbare domein. Daar is ruimte om praktiese probleme uit te wys,” het De Jager gesê.
“Nog ’n positiewe ding is dat staatsgrond – wat ’n derde van die land uitmaak, nou ook vir grondhervorming beskikbaar is. Dit is ’n radikale verskuiwing,” het De Jager bygevoeg.
“Ons vernaamste probleem bly die sogenaamde grondplafonne wat ingestel gaan word. Dit is vir my baie moeilik om in te dink hoe dit bepaal en ingestel gaan word.
“Al sê die regering dit gaan van streek tot streek verskil, wil ons weet watter formule gebruik gaan word om te bepaal wie het te veel grond.
“En glo my, as ’n boer byvoorbeeld 1 000 ha het en hy mag net sê 800 ha hê, gaan hy sy swakste 200 afsny. En wie gaan verloor? – die arme opkomende boer aan wie dit gegee gaan word.
“Die land se 60 grootste boere lewer omtrent 60% tot 70% van die land se kosproduksie. Hulle is die ouens wat die seerste gaan kry, maar het nog nie ’n kans gehad om hul saak te stel nie.”
De Jager het gesê Agri SA is dankbaar die regering erken in die groenskrif twee keer die proses van restitusie was tot nou ’n probleem en bevoordeel niemand nie.
Hy is bekommerd oor ’n sogenaamde waardeerder-generaal se rol in die bepaling van grondwaarde. “Dit is onduidelik hoe sy rol gaan oorvleuel met die funksies van die bestaande Suid-Afrikaanse raad vir die eiendomswaardeerdersberoep.”
Agri SA is bly boere sal op plaaslike vlak bydraes kan lewer in grondbestuursrade waar al die rolspelers verteenwoordig sal wees, het De Jager gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Beeld