Grondhervorming: Dís ANC se plan
2011-07-10 07:00
Johannesburg - Beperk wit grondbesit en nasionaliseer grond eerder as om dit aan swart mense te herverdeel. Dít is wat die regering in sy langverwagte groenskrif oor grondhervorming gaan voorstel.
Voorts is die voorstel dat ’n staatskommissie genaamd die grondbestuurkommissie sal monitor wat boere op hul plase doen en dat grondbesit deur buitelanders streng ingeperk word.
Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het die afgelope week buite Groblersdal gesê hy sou Donderdag die groenskrif afteken vir bespreking deur die kabinet, en dit sal in die komende week by die tersaaklike subkomitee ingedien word.
’n Groenskrif is nog nie vaste regeringsbeleid nie, maar beleidsvoorstelle wat vir openbare kommentaar versprei word sodat ’n witskrif saamgestel kan word wat as beleidsgrondslag dien.
Hoewel Nkwinti se woordvoerder, Mthobeli Mxotwa, nie Saterdag deur Rapport bereik kon word nie, het die regering se planne duidelik geblyk uit gesprekke met ander rolspelers.
Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge waarsku eiendomsreg in Suid-Afrika word deur die groenskrif bedreig: “Hoewel private eiendomsbesit voortbestaan, word dit beperk.”
Wat betref die beperking op die hoeveelheid grond wat kommersiële boere kan besit, sê hy dit kan die ekonomie van skaal waarop suksesvolle landbou in Suid-Afrika berus, verwoes. Landbou kan sy lewensvatbaarheid verloor.
Boonop, sê dr. Theo de Jager van Agri SA, het Nkwinti verlede week in samesprekings laat blyk die plan is dat die beperking slegs wit boere sal geld, nie alle kommersiële boere nie. Dit is volgens hom ongrondwetlik.
Annette Steyn, DA-LP, sê dis nie die enigste ongrondwetlike voorstel in die groenskrif nie. Juis daarom, sê sy, moet boere nie oorhaastig op die groenskrif reageer nie. Dis die begin van ’n lang proses en die DA is slaggereed om ondeurdagte en ongrondwetlike besluite teen te staan.
Ook De Jager sê daar is nog volop geleentheid om dinge reg te stel – onder meer om die regering te laat verstaan die grootte van lewensvatbare boerdery-eenhede verskil van streek tot streek en binne distrikte.
Wat betref die staat se plan om grond wat vir herverdeling aangekoop word te behou, eerder as om eienaarskap aan swart boere oor te dra, het Steyn met Cronjé saamgestem dat dit neerkom op nasionalisering. Die staat hou trouens al sedert 2008 herverdelingsgrond terug, en sedert April verlede jaar is geen eienaarskap van grond meer aan swart boere oorgedra nie.
Volgens De Jager beduiwel dit swart boere se kans op finansiering, want hulle het nie eienaarskap as sekuriteit vir banklenings nie en die staat tree nie op as finansier nie.
Oor die inperking van eienaarskap deur buitelanders sê De Jager dit geld net sowat 1% van plase. Boonop belemmer dit potensiële buitelandse belegging in sekondêre landbou-nywerhede, soos versapping en vrugtedroging.
Volgens Cronjé is die voorgestelde grondbestuurkommissie bloot ’n manier waarop die staat voorskriftelik teenoor boere wil wees.
De Jager sê die belangrikste versoek op die grondberaad in 2005 was dat ’n oudit van grondbesit gedoen word.
“Dit word egter nie gedoen nie, want die departement is bang hulle vind presies wat Agri SA se navrae ter plaatse wys: dat wit kommersiële boere reeds minder as die helfte van die landbougrond besit.”
- Rapport