Grondhervorming: ‘Daar is bloot nie meer geld nie...’
2010-08-15 10:00
Johannesburg - Die regering het nie genoeg geld om boere met wie koopkontrakte vir grondhervorming aangegaan is te betaal nie.
“Tog kan ons nie vir die boere sê hulle moet ophou om ooreenkomste met die regering te teken nie,” het Mthobeli Mxotwa, woordvoerder vir Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Vrydag aan Rapport gesê.
Hy het ook benadruk daar is geen moratorium op die aankoop van grond nie.
Annette Steyn, DA-LP en ’n woordvoerder oor grondhervorming, verskil van Mxotwa.
“Die minister het self erken hy het sy departement versoek om nie meer met boere te onderhandel nie omdat daar bloot nie geld is nie,” het Steyn Vrydagmiddag aan Rapport gesê.
“Hy het gesê sy departement moet eers die sake afhandel wat uitstaande is.”
Die onmiddellike probleem is juis die uitstaande sake, waaronder ’n spul hofsake teen die regering waarby etlike miljoene rand betrokke is.
Rapport het verskeie prokureursbriewe gesien wat bevestig dat grondhervormingtransaksies nie afgehandel kan word nie weens die regering se “kontantvloeiprobleme”.
Een so ’n brief verwys na 22 soortgelyke regsgedinge waar wit en swart boere nie vir hul plase betaal word nie, veral in KwaZulu-Natal en Limpopo.
Steyn sit met lêers vol getuienis van boere van alle rasse van wie verskeie tans van ellende krepeer omdat hulle hul plase ingevolge die grondhervormingsbeleid verkoop en dus verlaat het, maar nog nie betaal is nie.
Die departement ontken amptelik dat hy bewus is van enige huidige hofsake.
Sibusiso Gamede, waarnemende hoofkommissaris van grondeise, het egter Woensdag aan die parlementêre staande komitee oor begrotings erken die regering moet R500 miljoen opdok weens dié hofsake.
Daarbenewens het grondherstelooreenkomste nou van R7,5 miljard toegeneem tot R12 miljard.
Maar in die huidige boekjaar is net R3 miljard beskikbaar vir grondhervorming, aldus Mxotwa.
Parlementslede was verslae om te hoor die kantoor van die kommissaris het koopooreenkomste aangegaan wat hy nie kan bekostig nie.
“Wie het magtiging gegee om al die kontrakte met boere aan te gaan?” wou Steyn weet.
Hoewel geld die grootste kommer is, is die toedrag van sake in die streekkantore vir grondeise ook beroerd.
Narend Singh, IVP-LP, het in ’n verklaring gesê die grondhervormingsituasie is ernstig en kan ’n vernietigende uitwerking op voedselsekerheid hê.
Die regering is geruime tyd reeds eerlik oor die feit dat hy nie die R72 miljard het wat nodig is om hul doelwit vir grondhervorming teen 2015 te haal nie.
Die departement se verslae toon bykans ses miljoen hektaar is sedert 1994 suksesvol aan grondeisers oorgedra ingevolge die grondhervormingsproses, maar ook dat 70 000 ha vir herkapitalisering in aanmerking kom omdat dit in verskeie stadia van verval is of glad nie benut word nie.
“Ons ervaar probleme, maar ons luister graag na mense se voorstelle en raad oor wat ons te doen staan,” het Mxotwa gesê.