Grondhervorming 'moet binne grondwet gebeur'
2011-06-27 20:01
Midrand – Grondhervorming moet geskied binne die perke van die grondwet, het pres. Jacob Zuma Maandag gesê.
"Grondhervorming is dringend, maar vereis om met sorg en beraadslaging benader te word, en moet uitgevoer word binne die perke van die Grondwet van die Republiek,” het hy gesê by die vakbond Cosatu se sentrale komiteevergadering by Gallagher Estate in Midrand.
“Ons is in die proses om ‘n groenskrif te finaliseer wat ‘n nuwe rigting vir grondhervorming in Suid-Afrika sal aandui,” het hy gesê.
Zuma het gesê die grondkwessie is steeds ‘n “nasionale prioriteit”.
Die president van die ANC-Jeugliga, Julius Malema, het onlangs groot protes ontketen toe hy gesê het grond moet sonder vergoeding gevat word.
Die ANC het geskarrel om vrese van grondeise in die styl van Zimbabwe te besweer en het gesê besluite van die ANC-Jeugliga verander nie ANC-beleid wat op regeringsvlak geïmplementeer word nie.
Zuma het herhaal dat die afhandeling van uitstaande grondeise en die herverdeling van grond aan Afrikane tot dusver “baie stadig” verloop het.
Hy het ook weer toegegee dat die “gewillige koper, gewillige verkoper”-beleid nie die gewenste uitwerking gehad het nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA