Groep ‘perlemoenstropers’ dreig vroue
2009-08-31 10:17
Maygene de Wee
Kaapstad - ’n Uitstappie na idilliese Overbergse kusdorpe het vir twee vroue en ’n 15-jarige meisie in ’n nagmerrie ontaard toe hulle byna met vermeende perlemoenstropers slaags geraak het.
Dié drie inwoners van Hermanus se uitstappie na Waenhuiskrans en Kassiesbaai het Saterdag by die Kassiesbaaise hawe erg skeefgeloop toe die vermeende perlemoenstropers in duikpakke op hulle gevloek, vuil tekens na hulle gewys, hulle onder klippe gesteek en gedreig het.
Die drie (hul name is aan Die Burger bekend, maar word om veiligheidsredes nie genoem nie) het by die hawe aangery om foto’s van die omgewing te neem.
Een vrou het vertel met hul aankoms het ’n rubberboot met mans in duikpakke die hawe ingevaar. “Ek het foto’s van hulle begin neem en gehoop dat hulle vis gevang het en dit sou aflaai, sodat ek dit ook kon afneem.”
Die nagenoeg 14 mans het egter op haar gevloek en geskel en met hul hande vuil tekens gewys.
Hulle het toe goed wat in sakke was, uit die boot op die sleephelling afgelaai. Sy het nie besef dat dit op haar was wat hulle so vloek en skel nie, maar toe een ’n stuk rots na haar gooi, het sy besef hul woede is op haar gerig.
’n Sekerheidswag van Suidpunt-sekuriteit het intussen daar opgedaag. Die vroue het aan hom vertel dat die mans hulle onder die klippe gesteek het. Hy het hulle toe aangeraai om in hul motor te klim en te maak dat hulle wegkom. “Hy het gesê hulle gaan op ons skiet, die kamera afvat en dit breek.”
Die vroue se pogings om die Bredasdorpse polisie van die voorval in kennis te stel, het egter op dowe ore geval. “Ons het teen byna 160 km/h uit Waenhuiskrans weggejaag omdat ons bang was hulle keer ons voor. Die polisie het boonop nie opgedaag nadat ons hulle gebel het nie.”
’n Polisiebeampte het aan haar gesê dat hulle slegs een voertuig het en dit sal uitstuur wanneer hulle kan. “Maar teen daardie tyd sou die mense al weg wees,” het sy gesê.
Supt. Maree Louw, polisiebevelvoerder in Bredasdorp, het gesê hulle het drie patrolliewaens om die hele distrik – wat Waenhuiskrans, Kassiesbaai en Elim insluit – te bedien. Sy is met siekverlof en was nie bereid om te antwoord op die bewering dat slegs een patrollievoertuig beskikbaar was nie. Sy wou haar ook nie oor die bewering uitlaat dat die beamptes nie dadelik opgetree het toe hulle oor die aggressiewe duikers ingelig is nie.
- Die Burger